Quantcast
Channel: Bekendes – SARIE
Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294

Jy ken jou maat? O, regtig?

$
0
0

Of julle vier of vyftien jaar getroud is – moet nooit dink jy ken jou maat deur en deur nie … Johrné en Alet van Huyssteen speel saam in ons ‘vasvra’. Wie weet, dalk leer jy ook iets!

Johrné van Huyssteen is bekend as aanbieder van die radiostasie GROOTfm se ontbyt- program Die GROOT Ontbyt, wat weeksoggende ook op kykNET te sien is, en as musikant. Hy en Alet is 15 jaar getroud. Sy is ’n verpleegster en fotograaf, en het o.m. die bekende foto geneem van die hande op die voorblad van Zelda la Grange se boek Good Morning, Mr. Mandela: A Memoir. Alet neem nou ’n blaaskans as tuisteskepper.

Van watter soort mens hou sy glad nie?

Johrné: Sjoe, vals mense, mense wat “plastiek-grênd” is.

Alet: Ek hou eintlik van almal.

En hy?

Johrné: Onregverdige mense en mense wat teen ander diskrimineer, ryk, arm, swart, wit. Almal het ’n storie.

Alet: Sy hele lewe draai om mense. Hy hou nie daarvan as jy ongeskik is nie. En o, ja, rassiste.

Wat is haar gunsteling-geur?

Johrné: Kruie, vars reuke soos ’n afgeskilde lemoen, stof ná die seisoen se eerste reën.

Alet: Daardie eerste reën ná ’n droogte, die grond wat nat word.

En Johrné s’n?

Johrné: Ek besef nou eers ek het nie ’n favourite reuk nie. Mmmm … die reuk van die wind, ek sal altyd die venster oopmaak as ek ry.

Alet: Dis moeilik, ek weet nie!

Watter vaardigheid wou sy nog altyd aanleer?

Johrné: Om met haar hande goed te maak, meubels, houtwerk.

Alet: Ek restoureer tans ons ou meubels. Dalk moes ek houtwerk geneem het op skool, nie huishoudkunde nie.

En hy?

Johrné: Om ’n onderneming van die grond af op te bou tot iets groots, soos Facebook. Ek is mal oor suksesstories.

Alet: Beslis nie DIY nie, hy het tien duime. Hy kan net kitaar speel!

Wat maak haar bang?

Johrné: Om haar honde (Mnandi en Stoffel) en die mense na aan haar te verloor.

Alet: Ek is nie ’n bang mens nie. Dat my honde en die mense wat vir my lief is, sal doodgaan.

En hy?

Johrné: Die donker en spinnekoppe. Om ’n venster in die donker toe te maak. Leë geboue.

Alet: Die donker!

Die lekkerste ding wat julle al ooit saam gedoen het?

Johrné oor Alet: Die tye in ons huis in Bloemfontein waar ons drie jaar gewoon het. Ons het dit self reggemaak en dit het so ’n lekker stoep gehad. (Ons is nou in Pretoria en het ’n huis gekoop wat nes die een in Bloemfontein lyk!)

Alet oor haarself: Om iewers heen te gaan en plekkies te ontdek.

Johrné oor homself: Reis, road trips. Ons het eenkeer van Bloemfontein Mosselbaai toe gery via Kaapstad, net om by The Old Biscuit Mill in Soutrivier ’n draai te maak. Afstand beteken vir ons niks.

Alet oor hom: Toe ons ons met ’n glasie wyn op die stoep by ons huis in Bloemfontein kon neerplak.

FOTO VAN VAN HUYSSTEENS GENEEM BY Vovo Telo, Lynnwoodbridge, 012 348 0890

The post Jy ken jou maat? O, regtig? appeared first on SARIE.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294