Daar is min goed wat jou so emosioneel maak en plesier gee as om te aanskou hoe iemand se droom waar word. En daar’s ook min goed wat jou hart so breek soos ʼn droom wat vernietig word en aan skerwe spat. Wees verseker, dié twee emosies gaan The Voice SA sonder twyfel by jou wakker maak.
Die aksie skop Sondagaand om 17:30 af op M-Net, DStv-kanaal 101.
Niemand word hier sleggesê of verneder nie. In die plek van beoordelaars is daar vier afrigters, Karen Zoid, Lira, Khan Morbee en Bobby van Jaarsveld. Die dinamika en energie van hierdie vier mense is inspirerend en tasbaar. Daar is geen twyfel dat hulle ware sterre is nie. Hulle is hoogs talentvol, super suksesvol en ongelooflik gewild.
Dít, saam met die bitterlik oulike aanbieder, Lungile Radu, en verslaggewer Stacey Norman, is alreeds ’n wenresep. Voeg nou hierby ʼn produksie van internasionale gehalte en M-Net se betowering. Met deelnemers en kunstenaars wat meer as net vermaak verskaf, het jy M-Net se beloofde “magic”.
The Voice SA gaan in drie fases uitspeel.
Fase 1: Blinde oudisies
Uit honderde hoopvolle sangers word net 107 gekies vir die “blinde” oudisie. Die vier afrigters sit elk in ʼn groot rooi stoel met hul rug na die verhoog gedraai, sodat hulle net die deelnemer se stem hoor en nie hul keuse maak op grond van voorkoms nie. As die een dus hou van wat hy/sy hoor, druk hy ʼn knop en die stoel word omgedraai. As net een omdraai, word die deelnemer outomaties deel van die spesifieke afrigter se span. Word die deelnemer gekies deur twee of meer van die afrigters, moet die deelnemer self besluit in wie se span hy of sy wil wees.
Elke afrigter het ʼn span van 14 sangers.
Fase 2: Oorlog-rondes
Die 4 spanne van 14 deelnemers elk vorder tot in hierdie ronde, waar elke afrigter hul sangers in pare teen mekaar laat deelneem. Aan die einde van elke “stryd” moet die afrigter besluit watter twee deelnemers goed genoeg opgetree het om voort te gaan met hul reis op The Voice SA. En hulle besluit wie gaan huis toe. Elke afrigter het ook ʼn “steel” beskikbaar, wat beteken hulle het een kans om een van hul mede-afrigters se uitgestemde deelnemer in hul span op te neem. Die oorlog-rondes sal afspeel oor vier weke se episodes van twee uur lank – 17:00 tot 19:00 elke Sondagaand.
Fase 3: Die regstreekse vertonings
Die laaste episodes word regstreeks uitgesaai vanuit Johannesburg. Die publiek sal natuurlik ook stem vir hul gunsteling-deelnemers se toekoms op The Voice SA. Die uitslae van elke stemproses word aangekondig aan die begin van die opvolgende week se program. Die episodes is ook twee uur lank en sal uitspeel oor ʼn totaal van ses weke. Dit sluit die finalé in waar die wenner aangewys sal word op 22 Mei.
The post Die opwinding is groot vir ‘The Voice SA’ appeared first on SARIE.