Jan Serfontein beïndruk nie net op die rugbyveld nie. Hy het ook die pragtige Lani Scholtz se hart gewen.
Jan en Lani is al vir 4 jaar – sedert hul matriekjaar – ’n paartjie, maar ken mekaar al sedert hulle 10 jaar oud was. En dit was nie langs die rugbyveld waar die liefde geblom het nie, maar eerder langs die tennisbaan.
Beide Jan en Lani is kranige tennisspelers en Lani vertel hul verhouding het “maar so langs die tennisbaan begin”.
In Mei vanjaar het Jan die groot stap geneem – in styl! Lani vertel aan SARIE.com dat hulle in die boorde op haar pa, Calla Scholtz (ook ’n oud-rugbyspeler soos Jan se pa, Boelie), se plaas op Greyton gaan stap het – minwetend wat by die huis aan die gebeur is.
Terug by die huis was die elektrisiteit af – volgens Lani se pa beurtkrag se skuld.
“Ek het toe in die kombuis begin rondsoek vir vuurhoutjies om kerse aan te steek. Ek het nie eers besef dat Jan intussen verdwyn het nie. Ek het omgedraai en ’n liggie in die gang sien brand. Daar was kerse in ’n lang paadjie gepak tot buite by die swembad vol roosblare. Die liedjie “Forever and Always” van Shania Twain het gespeel en toe ek buite kom was daar foto’s van ons aan wasgoedpennetjes vasgesteek van die een pilaar na die ander.
Jan het aan die onderkant van die trappe gestaan met byna ’n 100 kerse om hom en ’n tafeltjie gedek met vonkelwyn en rooi fluweelkoek in ’n hartjie-vorm gebak. My sussie Kayli en haar kêrel, Heynie, het alles gereël terwyl ons gaan stap het.”
Lani, die slimkop met ’n BCom-graad in Finansiële Bestuur agter haar naam, en Jan het onlangs hul verlowingsfoto’s op Kampsbaai se strand en in die woud onder Leeukop in die Kaap laat neem. Kristi Agier het die foto’s geneem.

FOTO: Kristi Agier

FOTO: Kristi Agier

FOTO: Kristi Agier

FOTO: Kristi Agier

FOTO: Kristi Agier
Besoek Kristi Agier se webblad HIER.
Blaai deur die foto-album vir nóg foto’s.
The post EKSKLUSIEWE FOTO’S: Springbok Jan Serfontein verloof! appeared first on SARIE.