Hugh Jackman het vir ’n derde keer op Instagram sy aanhangers gewaarsku om genoeg sonskerm te gebruik. Hy het in 2013 en 2014 soortgelyke foto’s gedeel ná hy velkankerbehandeling gekry het.
Hugh is dalk die sterk Wolverine in X-Men (én moontlik die nuwe James Bond!), maar dié Hollywood-akteur is met velkanker gekonfronteer. Hy moes wéér dokter toe gaan om velkanker op sy neus uit te sny.
Volgens die internasionale Velkanker-stigting is dié tipe velkanker, basaalselkarsinoom, die een wat die meeste voorkom. Én dit is behandelbaar.
Dié velkanker word gekenmerk deur groeisels op die buitenste laag van die vel en dit versprei selde, maar as dit nie behandel word nie, kan dit lelike littekens los.
Hy het weer sy aanhangers aangeraai om versigtig te wees vir die son.
Dra jy genoeg sonskerm?
Die meeste van ons wend nie genoeg sonskerm aan nie!
Dít is volgens navorsing van die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA). Dié navorsing dui daarop dat die meeste van ons net 25% tot 50% van die aanbevole hoeveelheid sonskerm aansmeer. Dit beteken dat as jy slegs die helfte van die regte hoeveelheid SBF 15 aanwend, die waarde van jou SBF ná omtrent 5 verminder – dit bied nie naastenby genoeg beskerming nie.
Die volgende dele van jou lyf het elk ’n teelepel sonskerm nodig vir voldoende beskerming: gesig en nek (dit sluit jou oorlobbe in); jou borsgedeelte; jou rug; die agterkant van jou arms; die voorkant van jou arms; die voorkant van jou bene tot op jou voete; die agterkant van jou bene.
Bron: KANSA
The post Hugh Jackman maan wéér oor velkanker en sonskerm appeared first on SARIE.