Paul Putter van Heidelberg het net geweet as die fliek, Vir Altyd, eindig, móét hy sy meisie, Yowanka de Beer, die groot vraag vra. Toe breek die oomblik aan en hy kniel en vra haar om te trou.
SARIE het Vir Altyd se Kaapse première by Rhebokskloof in die Paarl bygewoon en het hulle groot oomblik gedeel.
“Ek het niks vermoed nie! Toe die vertoning klaar was, het ek opgestaan, maar Paul het bly sit. En toe ek weer sien, kniel hy op die grond en vra my om te trou!” het Yowanka aan SARIE.com vertel.
Paul sê hy het die hele aand die ring in sy sak gehou. “Toe Yowanka die kaartjies vir dieVir Altyd-vertoning wen, het ek geweet dis ’n teken ek moet haar vra om te trou!”
Die sterre van Vir Altyd, Donnalee Robberts en Ivan Botha, het seker gemaak hulle wens die paartjie ook geluk.
“Dis ’n ongelooflike voorreg. Dankie dat julle hierdie spesiale oomblik met ons kon deel,” het Donnalee gesê, terwyl sy Yowanka omhels het.
Donnalee vertel ’n paartjie het ook by die eerste fliek-vertoning van Pad Na Jou Hart (2014) in die Somerset-winkelsentrum in Somerset-Wes verloof geraak.
“Mens kry regtig hoendervel in sulke oomblikke. Watter voorreg dat dit vanaand gebeur het,” het Donnalee gesê.
Paul en Yowanka het nog nie ‘n datum vir hul groot dag nie.
Vir Altyd begin op 12 Februarie 2016 landwyd draai en SARIE is ’n trotse mediavennoot.
Lees nou
- FOTO’S: ‘Vir Altyd’ se eersteklas-première
- Agter die skerms by ‘Vir Altyd’
- VIR ALTYD: Donnalee Roberts sou wát wou word?!
The post Paartjie raak verloof by ‘Vir Altyd’-première appeared first on SARIE.