Hulle skryf, skep en speel toneel. SARIE het aan die vooraand van Vir Altyd se opening saam met Donnalee Roberts en Ivan Botha gekuier op Mauritius. Dié romantiese avontuurfilm begin begin op 12 Februarie 2016 landwyd draai.
Die vroue met kleurryke sari’s fladder soos mooi skoenlappers. En vooraan, langbeen in ’n swart mini en goue gordel, is Donnalee Roberts. Ons eie pretty woman, haar glimlag spontaan-wyd, nes dié van haar beroemde Hollywoodnaamgenoot, Julia Roberts.
Marijke Willems, SARIE se fotograaf, lig haar kamera. Fanie Cronjé, ons stylredakteur, probeer uit die motors se pad bly terwyl hy die ligweerkaatser in posisie hou. Ware Bollywood op ’n tropiese eiland!
As enigste kind het sy haarself vermaak
Haar ouers is kleintyd geskei, maar sy het oorgenoeg liefde, sekuriteit en koestering by albei gekry. Elke tweede naweek was sy by pa Llewellyn en hy het haar gereeld kinderteater toe geneem.
“As enigste kind het ek myself vermaak met verbeeldingspeletjies, die skep van nuwe wêrelde. Kleintyd word jy mos deel van daardie wonderwêreld, dis regtig. Maar daardie dag, ek was so sewe, het ek besef dis ’n regte meisietjie wat Alice speel. En dat ek dit ook wou doen. Agterna het my pa gevra of ons agter die verhoog kon gaan en ek het haar ontmoet.”
- Donnalee Roberts
Sy het ure in die tuin lê en stories skryf. Saans dit vir haar ma, Wilma, gelees; saam met Llewellyn het sy nog stories opgemaak.
Haar eerste rol, en haar voete was die hoofspelers! Sy was in ’n paar Egoli-episodes, as akteur Ivan Zimmerman se liefdesbelangstelling. Net: hy kon nie haar lelike voete miskyk nie. Pure fiksie, natuurlik, met hare skort niks. Al trek Donnalee dit laggend dieper onder haar in as sy die storie vertel.
Daarna was sy vyf jaar lank in 7de Laan. Die lang ure het haar selfdissipline geleer, soms was sy twaalf ure op stel en moes daarna haar woorde vir die volgende dag memoriseer. Op tegniese vlak het dit haar vlymskerp gemaak. Sy het kamerategnieke geleer, ook die tegniese aspek van multi-cam, waar meer as een kamera ingespan word.
Dis waar sy Ivan Botha ontmoet het, die akteur met die oop gesig en blonde kuif. Nou’s hulle soos die Lone Ranger en Tonto, Thelma en Louise. Beste pêlle, sakevennote.
Hy was in 7de Laan haar liefde, Pieter, met wie sy uiteindelik afhaak. Weg van die kameras het hul koppe ook gekliek. “Ons wou albei meer as akteurs wees. En het dieselfde visie en droom gehad vir die soort film wat ons wou aanpak. ’n Fliek met hart, passie wat mense aanraak.”
Hul voete is stewig op die aarde
Op 7de Laan se dek, tydens die lang ure van niksdoen tussen tonele, het hulle hul eerste rolprent, Pad na jou hart, geskryf. “Dom ure as jy dit nie
gebruik nie. Dit voel of jou brein agteruit begin gaan as jy lank genoeg stilsit.”
Dit het sowat ’n jaar geneem om Pad na jou hart, en later ook Vir Altyd, hul volgende fliek, te skryf. Die vervaardiging van die twee prente het elk nog ’n jaar ingesluk. Hul produksiemaatskappy, 17 FILMStreet Media, het tussenin Ballade vir ’n enkeling bemark. Donnalee het ook ’n rol daarin vertolk. (Sy het die Huisgenoot-Tempo-toekenning as beste aktrise twee jaar agtereenvolgens gekry: Vir Ballade en Pad na jou hart.)
“So ’n projek vat jou lewe oor. Nadat ons Vir Altyd geskiet het, het ek besef ek was drie jaar lank nie een volle naweek by my huis nie. Dis hoe hard ons werk.”
- Donnalee Roberts
Albei kan kop in die wolke wees, maar hul voete is stewig op die aarde wanneer ’n taak dit vereis. Ivan is georganiseerd. ’n Lysie-mens op wie se rekenaar daar ’n lêertjie binne nog een binne ’n volgende een is. Maar albei werk ewe hard, sáám. Hy het nie sekere pligte en sy ander nie. “Veral in ’n kreatiewe wêreld kan jy nie altyd dinge in ’n boksie sit en sê dis jou deel en dis myne nie.”
‘Vir Altyd’
Vir Altyd fokus op drie pare in verskillende fases van die huwelik.
“Die fliek vertel hoe belangrik dit is om steeds beste vriende te wees, as die musiek ophou speel, die opwinding van die troudag verby is en die lewe moeilik raak. Dis maklik om ’n maat te kies met net die lewe se mooi in gedagte, maar jy moet saam met hom/haar kan treur ook,” sê sy.
Mauritius in die fliek is simbolies van die “wittebrood”, daardie eerste, euforiese fase van ’n verhouding. Met ’n span van 40 het hulle drie weke lank daar geskiet. ’n Standaardgroep as jy plaaslik skiet, groot vir ’n ander land. Blyplek, paspoorte en drie maaltye per dag moes gereël word. Ook permitte en soms polisiebegeleiding vir plekke waar hulle wou skiet: strate, dorpies, op die water. Lugskote met ’n helikopter. Alles moeiliker op ’n vreemde plek. Maar in pas met hul visie vir die rolprent: ’n Groot avontuur, ’n “groot” film.
Hierdie is ’n verkorte weergawe van die artikel ‘Vir Altyd’ deur Lydia van der Merwe. Donnalee skitter op ons Februarie-voorblad. Ons kuier saam met haar en Ivan op Mauritius – moenie dié pragtige fotosessie misloop nie! Die Februarie-uitgawe is nog tot Sondag te koop.
Lees nou:
- FOTO’S: Donnalee se Vesselina Pentcheva-trourok in “Vir Altyd”
- Paartjie raak verloof by ‘Vir Altyd’-première
- Agter die skerms by ‘Vir Altyd’
- VIR ALTYD: Donnalee Roberts sou wát wou word?!
The post Mauritius-kuier: Donnalee Roberts gesels oor liefde appeared first on SARIE.