Sy klee van ons bekendste sterre en bruide tot gewone vroue op hul groot dae. Ontwerper Vesselina Pentcheva word deur enigiets van die opera tot die woud geïnspireer. En nóú is twee van haar trourokke in Vir Altyd-film te sien.
Wat is jou grootste bron van inspirasie?
Mense, musiek, flieks, blomme. Ook my kinders, my stiefdogter Brittany (28) en my eie kinders, Milla (15) en Bella (13). Feëverhale, die woud en die teater. Ek het al trourok-reekse ontwerp met die Mexikaanse kunstenaar Frida Kahlo, Shakespeare se toneelstuk A Midsummer Night’s Dream en selfs die Rooikappie-sprokie as inspirasie.
Dis weer trouseisoen. Watter trourok-tendense staan nóú uit?
Rokke is dikwels nie wit nie, maar in kleure van sjampanje, oester of bloospienk. Vintage en boheemse style is ook “in”. Al hoe minder bruide trou binnenshuis. Die woud, strand of selfs ’n stal word ingespan. Rokke is dus nie meer so tradisioneel nie, maar is deel van die hele ervaring.
Kant en net is groot – dit sorg vir ’n sagte, vroulike, vloeiende voorkoms. Die sogenaamde illusie-neklyn is ook gewild. Dit lyk van ver af asof die nek kaal is, maar van naderby is dit bedek met fyn net of kant, soms geborduur met fyn kraletjies.
Is dit ’n lang proses om ’n rok te maak?
Ek het ’n sowat anderhalf uur lange sessie met ’n kliënt voor ek begin met die rok om vas te stel hoe haar persoonlikheid werk. Met die heel eerste gesprek “maak” ek al die rok in my kop. Die truuk is om die tweedimensionele skepping in ’n driedimensionele rok te omskep.
Ek het vyf naaldwerksters wat vir my werk, elk met haar eie spesialiteit, soos patroon- en materiaalsnyers, drapeerders, krale-borduurders. En elke rok word met liefde gemaak.
Jy het ook ’n trourok vir die fliek Vir Altyd ontwerp.
Ja, dis die eerste keer dat ek so iets doen. Ek is mal oor die fliek se konsep en oor Donnalee Roberts wat die hoofrol speel.

KORREKTE ONDERSKRIF:
Donnalee en Ivan in ‘n toneel uit Vir Altyd. Die trourok is deur Vesselina Pentcheva
Wat dink jy van SA vroue se styl?
Hulle trek individueel en eklekties aan. Europese vroue is baie stylvol, maar soms ’n bietjie vervelig met al hul grys, swart, bruin en beige. Suid-Afrikaanse vroue is nie bang vir kleur nie.
Jy ontwerp dikwels vir celebs? Word julle vriende?
Ek is eintlik baie skaam en geniet dit weg van die kollig, om hier by die huis met my twee katte, Snowball en Liquorice, te skep. Drie glansmense wat my vriende is en met wie ek ’n konneksie het, is Donnalee, TV-aanbieder Nadia Beukes en die sangeres Louise Carver. Ek voel veilig by hulle. Ons inspireer, motiveer en ondersteun mekaar.
Hou jy van die rooitapyt-geleenthede?
Dit is heerlik om daarna te kyk, maar ek wil nie daar loop nie. Ek sou graag vir die Franse aktrise Marion Cotillard iets vir die rooi tapyt ontwerp. Sy is in Parys gebore en ek is dol op Franse aktrises. Haar spel as Edith Piaf in La Vie en Rose was uitstekend. En ek is ’n groot bewonderaar van Piaf. Marion is ’n besonderse sangeres, aktrise en kunstenaar.
Beskryf jou persoonlike klerestyl.
Klassiek. ’n Donker broek, wit bloes en plat skoene. Altyd plat skoene by die werk, want ek moet maklik kan beweeg. In Desember, as ons hele gesin – nefies, niggies, ooms, tannies – na my man se familieplaas net buite Port Alfred in die Oos-Kaap gaan, dra ek ’n sarong, swembroek en plakkies. En gedurende die kwartaal, wanneer ons naweke gaan kuier op my man se skaapplaas, Stonestead, naby Heilbron in die Vrystaat, dra ek geruite bloese by denims en stewige baadjies. Of ek dra blomrokke, stewels en ’n strooihoed.
As my man, Rivak Bunce, soms op ’n weeksaand na ’n musiekkonsert of ander formele geselligheid gaan, wil hy gemaklik aantrek omdat hy heeldag in ’n formele pak is. En ék wil dan weer my hoë hakke dra. My aandklere is gewoonlik vintage-sjiek. Daar is altyd ’n leerbaadjie iewers. Marianne [Fassler] het my geleer hoe kragtig kleur is. Dis hartseer, want hoe ouer ek word, hoe meer skram ek weg daarvan. Miskien omdat monotone eenvoudiger is.
Vir Altyd begin op 12 Februarie 2016 landwyd draai en SARIE is ’n trotse mediavennoot.
Donnalee skitter op ons Februarie-voorblad. Ons kuier saam met haar en Ivan op Mauritius – moenie die fotosessie misloop nie! Die Februarie-uitgawe is tot Sondag te koop.
Lees nou:
- FOTO’S: Donnalee se Vesselina Pentcheva-trourok in “Vir Altyd”
- Agter die skerms by ‘Vir Altyd’
- Donnalee en Ivan deel die storie agter ‘Vir Altyd’
The post Vesselina Pentcheva: ‘SA vroue skrik nie vir kleur nie’ appeared first on SARIE.