Rolprente het sy ‘lewe gered’ ná ’n ernstige motorongeluk. Jaco Smit, regisseur van Vir Altyd, vertel meer oor sy reis . . .
Mense sien met groot afwagting uit na Vir Altyd. Hoe het die verfilming verloop?
Die storie het my geraak, want ek is op ’n plek in my lewe waar ek daarmee kan identifiseer. Die fliek vra: Wat presies behels dit om die één te vind?
Dit was ’n baie ambisieuse projek, want ons het deels op Mauritius geskiet. Dit was warm en moeilik en daar was min produksiemense op stel. Maar dit was ’n voorreg om weer saam met Ivan Botha en Donnalee Roberts te werk, asook akteurs soos Elize Cawood en vervaardiger Danie Bester.
Ons het ook in die Paarl geskiet, waar ek grootgeword het. My ou straat waarin ek as kind gewoon het, is daarin, en my herinneringe. Ek het emosioneel daarin belê en ek’s trots daarop – ek kan nie wag om mense se reaksies te sien nie!
Jy’t jou rug gebreek op skool, en dit het jou glo laat besluit om ’n regisseur te word . . .
Ek sê gereeld films het my lewe gered. Ek was in ’n ernstige motorfietsongeluk in gr. 10 en was vir ’n jaar en ’n half op my rug. Flieks het my geselskap geword. Dit het my hoop gegee, ’n manier om my werklikheid te verwerk. Ek het probeer om weer skool toe te gaan in gr. 11, my hele lyf byna in gips, maar ek het gesukkel en is toe na Abbotts College in Kaapstad. Ek was baie agter en kon daar meer vakke op ’n slag doen.
In my matriekjaar, twee weke voordat ek in Bloemfontein argitektuur sou gaan studeer, hoor ek toe van die AFDA filmskool en het daar en dan besluit ek wil soontoe. Daardie paar jaar was ’n harde les, maar ek glo nou dit het alles om ’n rede gebeur.
Wat was jou eerste werk?
Ek was bereid om enigiets te doen vir ondervinding, en kry toe werk as derde assistent-regisseur in opleiding op die stel van Starship Troopers 3, wat deels in Suid-Afrika geskiet is. Ek was basies ’n koffie-aandraer! Maar ek was gretig en skerp en kry toe ’n goeie verwysing. Só het ek op die stel van Generation Kill beland, toe as tweede assistent-regisseur op die stel van District 9, en uiteindelik as eerste assistent-regisseur vir Bakgat 2. Daar het ek vir Danie en Ivan ontmoet, en hulle het die fliek Pad na jou hart vir my aangebied as regisseur.

KORREKTE ONDERSKRIF:
Donnalee en Ivan in ‘n toneel uit Vir Altyd. Die trourok is deur Vesselina Pentcheva
Jy, Ivan en Donnalee het weer saamgespan met Vir Altyd. Hoe kom julle oor die weg?
Hulle is die hardwerkendste mense wat ek al teëgekom het, en boonop talentvol en inspirerend. Op stel werk ons goed saam. Hulle lewer insette wanneer ek regie doen, en ek gee insette met die teks, maar ons respekteer mekaar te veel om vas te sit en laat mekaar dus toe om elkeen sy ding te doen.
Julle was die spilpunt van ’n herlewing in die plaaslike rolprentbedryf. Wat maak julle flieks so anders?
Ek het soveel mentors gehad, mense soos Danie en Jans Rautenbach en dié op die internasionale stelle waar ek al gewerk het. En Donnalee en Ivan is so talentvol, asook al die mense op stel. Ons het slim geword, want die plaaslike begrotings is nie groot nie.
Ek dink tegnies gesproke en wat produksiegehalte betref, is ons daar, en ons maak rolprente wat die mark op die oomblik graag wil sien. Op die ou einde dink ek ’n fliek slaag as die kyker vir ’n oomblik vergeet wie hy of sy is, vergeet hulle kyk ’n fliek. En ek dink ons kon dít regkry.
Het jy internasionale planne?
My volgende doelwit is om te reis vir my werk, om nuwe kulture te ervaar. Ek sien myself as ’n storieverteller, iemand wat ons werklikheid verpak sodat mense jare van nou ’n gevoel kan kry van wie ons was – waar ek dit ook al doen. Maar die plaaslike bedryf is ook baie na aan my hart. Ek dink nie die een hoef die ander uit te kanselleer nie.
Sal jy ooit voor die kamera wil wees?
Dis nie nou ’n doelwit nie, maar ek het baie respek vir mense wat albei kan doen. Die klein plaaslike bedryf vereis ook dat almal diversifiseer en meer as een vaardigheid aanleer. Wie weet? Ek sê nooit “nooit” nie.
Jy leef baie gesond. Was jy nog altyd so?
Ek het besluit om ’n leefstylverandering te maak ná Pad na jou hart. Dit was baie harde werk en ek het buite beheer en gestres gevoel – ek was eintlik bekommerd ek sou ’n hartaanval kry. Toe begin ek daagliks joga en meditasie doen, en ek doen dit steeds. Ek het gesond begin eet – meestal vegetaries.
Nou laat groei ek ook my baard en hare. Ek het iewers gelees jou liggaam gebruik sy kalsiumstore om jou hare weer te laat groei as jy dit sny, maar, om eerlik te wees, is ek maar net lui en wil ek nie tyd daaraan bestee nie!
Vir Altyd begin op 12 Februarie 2016 landwyd draai en SARIE is ’n trotse mediavennoot.
Donnalee skitter op ons Februarie-voorblad. Ons kuier saam met haar en Ivan op Mauritius – moenie die fotosessie misloop nie! Die Februarie-uitgawe is tot Sondag te koop.
Lees nou:
- KYK DIT NOU: Vir Altyd-lusmaker
- Hieroor gaan Vir Altyd : Sterre vertel
- Donnalee en Ivan deel die storie agter ‘Vir Altyd’
The post Jaco Smit: Storie verteller vir altyd appeared first on SARIE.