Die komediant Leon Schuster wat bekend is vir sy poetse het gister bekend gemaak dat sy volgende fliek sy laaste een sal wees, berig Times Live. Shucks! Pay back the money! wat in 2016 die lig sal sien, sal sy 18de fliekwees.
Leon het in ’n onderhoud met SARIE oor sy loopbaan gesels.
Hoekom is jou uitvangflieks so gewild?
Die meeste Suid-Afrikaners het ’n gekskeerstreep. Ons is lief daarvoor om mekaar te prank. Mense van alle kleure en geure gaan kyk my movies. Van die gewone ou op die straat tot die snobs (al kyk hulle dit agter geslote deure). As ek in ’n winkel loop, oorval mense van alle rasse my vir foto’s. Ek probeer altyd flieks skryf wat ’n breë mark lok – daar’s ’n method in my madness.
Is dit jou roeping om die land te laat lag?
Ek glo so. Ek kry ’n gevoel van totale tevredenheid wanneer mense lag waarvoor ek gehoop het hulle sou lag. Maar die toppunt van depressie is wanneer hulle nie lag vir dit wat ek gedink het snaaks sal wees nie. Ek kry soveel oproepe van susters in hospitale wat vertel wat my flieks vir hul kankerpasiëntjies beteken. Ek’s betrokke by Reik na ’n Droom en bring gereeld kindertjies na die stel. Die tipe vergoeding wat ek hieruit kry, beteken veel meer as enige wins.
Jou nuwe uitvangfliek is waarskynlik die laaste?
Ja. Dit raak ál moeiliker om mense uit te vang. Die eerste drie weke van verfilming het my gags geflop, want mense herken my, selfs al het ek my stem vermom en vier uur in die grimeerstoel deurgebring. As ek ooit weer so iets doen, sal ek radikaal aan my vermommings moet verander.
Ek’s deesdae te bang om poetse te waag soos in die verlede. Ek’s versigtig, bang ek word doodgeklap. Ek’s al lights out geslaan in my flieks, tande uit en alles. My grafsteen sal seker eendag sê: Shucks kon nie die laaste klap vat nie.
Wat is ’n groot uitdaging in jou lewe?
Ek is doodbang vir die verhoog. Dis makliker om voor 40 mense op ’n filmstel op te tree as voor duisende mense. Maar my grootste uitdaging was om vier kinders groot te maak. Ek het destyds op ’n moeilike tyd in hul lewe (toe die tweeling agt jaar oud was) geskei. Jy doen ’n kind ’n verskriklike onreg aan, want geen kind wil hê sy ouers moet skei nie. Dit was ’n hengse uitdaging om hulle te help verstaan wat aangaan.
Wat wil jy nog in jou loopbaan bereik?
Ek wil my biografie skryf. My grootste droom is om ’n fliek te maak wat ’n internasionale mark bereik. Maar eers gaan ek ná die nuwe fliek vir minstens ses maande ’n breek vat. Ek sou graag in Europa wil gaan toer.
Die rolprentresensent Leon van Nierop het die volgende oor Leon te sê:
Leon van Nierop, fliekresensent, reageer só as jy hom oor Leon uitvra: “Dat een mens so vermetel, snaaks, talentvol en moedswillig tegelyk kan wees, wil gedoen wees – en ek praat hier van Leon as mens, en daarná van sy rolprente. Ons ken mekaar vandat ons jong omroepers was en hy het die meeste van sy poetse eers op my uitprobeer (en elke keer daarmee weggekom!). In die proses het hy vir ’n taamlik ernstige bleeksiel oneindige vreugde en plesier verskaf en ’n nuwe wêreld van humor oopgemaak. Leon rules!”
Kyk hier die lokprent van Schuks! Pay back the money
Die onderhoud het in die Oktober 2013-uitgawe van SARIE verskyn. Dit is ongelukkig nie meer te koop nie, maar jy kan dit HIER aflaai.
Lees ook
The post Leon Schuster gesels oor sy loopbaan appeared first on SARIE.