Sy’s pas weer vir ’n Fleur du Cap-teatertoekenning benoem, maar openingsaand bly vir Anthea Thompson senutergend. Want dan’s dié eenkant aktrise vol in die kollig, soos nou in die eenvroustuk My briljante egskeiding by die KKNK.
Is dit moeilik om as enkellopende die rol van ’n geskeide vrou in My briljante egskeiding te vertolk?
Nee, die meeste vroue sal met Engela kan identifiseer, want selfs as jy net in ’n lang verhouding was en julle breek op, worstel jy met dieselfde kwessies. Die titel is ’n paradoks – wie dink ’n egskeiding is briljant? Ná haar man, Manie, se terugkeer van ’n sakereis ontdek Engela hy het haar verneuk. Sy bly alleen in die grote huis agter, maar is bang vir alleenwees. ’n Getroude vrou het immers ’n sekere “status” en Engela wonder waar sy nou inpas nadat sy in al die jare van getroude lewe haar identiteit vir hom opgeoffer het. Ek verstaan dit. My pa, Francis, soek steeds man vir my, hoewel ek al veertig-plus is, omdat hy reken iemand moet vir my sorg. Die huwelik is ’n baie sterk instelling in die samelewing …
Hoe werk jy en regisseur Hennie van Greunen saam?
Hennie hou van stukke wat gaan oor die bemagtiging van vroue en het die gawe om Engelse stukke soos Shirley Valentine te kies en ’n Afrikaanse geur te gee. Sy vertaling van My brilliant divorce deur Geraldine Aron is briljant. Ons verstaan mekaar op ’n komiese vlak en ek is baie dankbaar dat hy dié rol vir my aangebied het. Ek en Hennie het al voorheen saamgewerk en hy is betrokke by elke aspek. Hy daag jou uit om buite jou gemaksone te beweeg.
Veral Shakespeare-rolle is jou kos. Verkies jy om in Engels of Afrikaans toneel te speel?
Ek is tweetalig. Engels is die taal van logika, Afrikaans is meer emosioneel. Ek moet harder werk vir Afrikaanse rolle; dit vereis ’n sekere tegniek. Al die vokale sit op ’n ander plek in jou mond as in Engels, wat propvol konsonante en meer clipped is. So moes ek Kersfees, toe my hele familie by ons vakansiehuis op Waenhuiskrans was, tuis bly en woorde leer vir Hennie se stuk. Ek slyp my spel deurlopend. Dit verg opoffering.
#SARIEkies: My briljante egskeiding by die KKNK
*SARIE is die mediavennoot van My briljante egskeiding.
Met: Anthea Thompson
Regie, vertaling en verwerking: Hennie van Greunen
Opsomming: Dié wêreldtreffer maak sy buiging in Afrikaans. Dit was bietjie vreemd die dag toe Manie terugkeer van sy besigheidstrippie en hy begin sy tas in- en nie uitpak nie. En voordat Engela van Tonder-Strydom weet wat haar tref, hardloop hy tas en al af met die trappe, uit by die voordeur en uit Engela se lewe. Dis eers later wat sy hoor van Rosa, die jong kaktusbloeiseltjie wat Manie in Mexiko ontmoet het. Op sy besigheidstrippie. En aangesien hulle dogter wil intrek by haar punk-rocker kêrel, los dit Engela alleen in die groot huis, saam met Julius die Sagmoedige, wat die eindproduk is van ’n kortstondige affair tussen ’n Duitse herdershondteef en ’n ambisieuse Ierse terrier. En dinge verander.
Afrikaans | Gesin R110 | 110 min. | kykNET Hoërskoolsaal 25 MAART 18:30 | 26 MAART 18:30 | 27 MAART 09:00 28 MAART 13:00 | 29 MAART 18:30 | 30 MAART 09:00
Koop kaartjies hiér.
Vir die volledige onderhoud met Anthea Thompson koop SARIE se April-uitgawe.
The post Anthea Thompson “My briljante egskeiding” by die KKNK appeared first on SARIE.