Op sy linkerarm is die woord ‘silence’ getatoeëer. Want wanneer kletsrymer HemelBesem, oftewel Simon Witbooi, die mikrofoon vat en Afrikaanse woorde begin uitspoeg, wil hy hê jy moet stilbly. Luister. En dink.
Vanwaar die naam HemelBesem? Jy’s nie só lank nie . . .
Dis hoe lank ek binne is. Ook wat ek wil sien in mense wat my paaie kruis. Wil oordra met my skrywes en musiek. Kop in die wolke (geestelik), voete op die aarde (prakties). Geloof en jou werke moet hande vat. Jy kan nie geestelik wees maar handjies gevou sit nie. En omgekeerd.
Die getatoeëerde gesigte op jou linkerarm lyk soos die Verenigde Nasies . .
Dis my mike-arm, waarmee ek ’n lansie vir Afrikaans, my mense en hip-hop wil breek. Dié mense het almal vir ’n cause geveg. Hier is my groot- grootoupa, kaptein Hendrik Witbooi. ’n Jong Simba uit ’n spesifieke toneel in The Lion King wat my en my dogters, Simile (9) en Halo (7), na aan die hart lê. Mel Gibson in Braveheart, waar hy ná ’n oorwinning boontoe kyk. Net so met Rudy Youngblood uit die fliek Apocalypto. En Immortal Technique, revolusionêre hip-hop-kunstenaar.
Hoe voel jy oor Afrikaans in die spervuur?
Ons moet herdefinieer wat ’n taal se hoër funksie is. Is dit opvoedkundig? Want dis daar, in die akademie, in die knyp. Volgens my is die kunste/ vermaak deesdae die taal se hoër funksie. Dis steeds die land se topverkoper, kyk hoe suksesvol is kykNET, Afrikaanse flieks en musiek. Nie net is dit lewendig nie, daar word konstant nuwe goed geskep wat vinnig suksesvol is. Op die iTunes SA-lys skop Karen Zoid en van haar sanger-gaste op kykNET se Die Republiek van Zoid Afrika byvoorbeeld gereeld stof in die oë van groot name soos Adele.
KKNK: Die Afrikaansvatter
* Dié produksie het reeds 24 Maart en 25 Maart by die KKNK gewys.
Met: HemelBesem, Coenie de Villiers, Bradley Kanasashi, Babette en Olga, Mak1one, Meli Grey, Yoma, Linkris, Rhyme Author en Poetry Circle Nowhere
Regie: Simon Witbooi
Opsomming: Wat kry jy as jy skerpskerts, graffiti, musiek, rymklets, ’n tatoeëerder, animasie en meer op ’n verhoog saamgooi? En boonop in Afrikaans. Die definitiewe indruk dat die taal leef. Kom hoor, sien, proe, voel en ervaar die taal soos nooit vantevore, terwyl jy op reis gaan met HemelBesem en sy (woorde)skatkis deur nuwe woorde, gesegdes en frases in Afrikaans wat jou soms sal laat skaterlag en ander kere diep laat dink. Hierdie is ’n spesiale vertoning wat cameos insluit van bekende Afrikaanse stemme soos Coenie de Villiers.
Vir die volledige onderhoud met Anthea Thompson koop SARIE se April-uitgawe.
The post HemelBesem – Kop in die wolke appeared first on SARIE.