Beeldskoon en eg. Dis hoe ’n mens vir die aktrise en skrywer Milan Murray kan opsom. Juis daaroor is Milan ons ster van die maand in SARIE se April 2016-uitgawe.
Dié aktrise se deurbraak was in 1998 as die rebelse tiener Dusty da Silva in die Engelse sepie Isidingo. Vele TV- en teaterrolle het hierna gevolg. En vanjaar is Milan vir die eerste keer vir haar verhoogwerk benoem – as beste aktrise vir haar rol in Amper, Vrystaat by die Fiësta-toekennings. Sy’s boonop die medeskrywer van dié stuk, waarin drie vervreemde susters vir hul ma se begrafnis op die fikstiewe dorpie Amper bymekaarkom.
“Ek is baie trots en dankbaar oor die gewildheid van die stuk. Wanneer jy iets nuuts skep, hou jy maar jou asem op vir die reaksie.”
Milan skryf ook kinderboeke. Haar eerste, Pieter Kokkewieter en die hart op sy mou, het verlede jaar verskyn.
KKNK: Amper, Vrystaat deur Cintaine Schutte, Antoinette Louw en Milan Murray
Met: Cintaine Schutte, Antoinette Louw en Milan Murray
Regie, beligtingsontwerp en stelontwerp: Nico Scheepers
Opsomming: Mense sê die Vrystaat is waar geheime die emmer skop, waar die aarde so plat is jy sien jou toekoms as jy op ’n windpomp klim. Drie vervreemde susters ontmoet vir Ma se begrafnis in Amper, ’n dorpie duskant nêrens. Daarby het die vreemde omstandighede rondom hulle ma se dood die hele kontrei aan die gons. Aangewys as beste debuutproduksie by die 2015 Vrystaat Kunstefees en vir vyf Fiësta-toekennings genomineer.
Koop kaartjies hiér.
Afrikaans | Geen o/15 OB T R120 | 60 min. | Griesselsaal 24 MAART 19:00 | 25 MAART 09:00 | 26 MAART 18:30 27 MAART 09:00 | 28 MAART 09:00
KKNK: Pa deur Florian Zeller
Met: Chris van Niekerk, Milan Murray, Stian Bam, Roeline Daneel, Ira Blackenberg en Benedikt Sebastian
Regie: Hennie van Greunen
Vertalers: Elouise du Toit en Naomi Morgan
Opsomming: André is 65 jaar oud. Anna, sy dogter, is ’n goeie dogter wat sorg dat haar pa alles het wat hy nodig het. Maar André se horlosie is (weer) weg en hy wéét dat Lara, sy versorger, dit gesteel het. André wonder ook oor Pierre, Anna se nuwe liefde, die man lyk vir hom arrogant en gevaarlik. En hy herken nie die stoel wat nou in sy sitkamer staan nie. En wie is die weird vrou wat soms maak asof sy Anna is? En waar is Elize, sy jonger dogter – daai een vir wie hy eintlik lief is? Een vir een gaan die liggies in André se kop af. Florian Zeller se snaakse, roerende wêreldtreffer is ’n studie van geheue, van familie en van herinneringe, en kry met ’n wêreldklas rolverdeling lewe in Afrikaans.
Koop kaartjies hiér.
Afrikaans | Gesin R130 | 100 min. | SANW-ouditorium 24 MAART 09:00 | 25 MAART 14:30 | 26 MAART 09:00 27 MAART 14:30 | 28 MAART 19:30 | 29 MAART 09:00 | 30 MAART 19:30
Koop SARIE se April 2016-uitgawe en lees wat ander akteurs soos Stian Bam en Anthea Thompson te sê het.
The post Milan Murray by die KKNK appeared first on SARIE.