Dié naweek loop ons op sonskyn ….
(Speel sommer dié liedjie in die agtergrond terwyl jy verder lees.)
Soek die perfekte sonkolletjie uit. Hoewel die winterluggie by tye byt, skyn die son die naweek oor die héle Suid-Afrika. En met al ons mooiweersnuus (soos Pravin Gordhan wat hoopvol is dat rommelstatus nié ons voorland is nie) én die lekker weer, is dit tyd vir ontspan en energie herwin.
Neem die naweek ’n selfie wat omgee!
Dit het alles begin met ’n foto op Tafelberg … Matthew Kruger van One Heart For Kids, ’n nuwe nie-winsgewende organisasie wat hom beywer om kinders in Suider-Afrika te leer lees, het ’n hart-in-sy-hand-foto (onder) die wêreld ingestuur met die boodskap: wys liefde prakties. En toe begin One Heart-handies (’n selfie wat wys jy gee om) instroom op sosiale media, van Johannesburg, Londen, Amsterdam, Milaan, die VSA, Zambië … Dié simbool, wat hy geskep het “om jou steun te wys vir enige verskil wat saak maak”, hou net aan en aan versprei. Besoek ook www.oneheartforkids.co.za.
Deel dié naweek jou selfie met ons en gebruik #mooiweer.
Ons by SARIE sien uit na …
Die Comrades-marathon
Die wêreld se oudste en grootste ultramarathon, die Comrades, vind Sondag plaas. Vanjaar is daar sowat 7 000 atlete wat dié 90 km-wedloop vir die eerste keer gaan aanpak.
Rugby
Wat is ’n wintersnaweek sonder biltong en ’n rugbywedstyd? Die Superrugby-reeks staan einde se kant toe en met groot plaaslike spanne wat die naweek teen mekaar meeding, gaan ons voor die TV vasgenael sit. Watter kant van die Jukskei gaan dié naweek juig wanneer die Bulle die Leeus pak? En op Nuweland is dit die Stormers teen die Cheetahs.
Ná die opwinding om 19:00 hou ons asem op wanneer die Bokafrigter, Allister Coetzee, sy eerste Bokspan vir die eerste toets op Nuweland op 11 Junie teen die Iere aankondig.
Good Food & Wine Show
Dié naweek is dit Afrika se grootste kosgebeurtenis in Kaapstad. Vanjaar se tema van die Good Food & Wine Show is Vars. Ons kyk na die volhoubaarheid en gesondheid van Moeder Aarde.
SARIE KOS-redakteur, Barbara Joubert, is van ’n handjievol mense wat die gewilde MasterChef Australia-beoordelaar George Calombaris gaan ontmoet voordat dié kosfees begin. Ander wêreldbekende sjefs soos Adriano Zumbo, Jenny Morris, Siba Mtongana en Sarah Graham is ook hier.
Die suikertand by dié fees kan uitsien na 50 versierde koeke vir die 50ste herdenking van die Suid-Afrikaanse Koekversierdersgilde.
Die flieks!
Almal gesels oor Alice Through the Looking Glass, met Johnny Depp in die hoofrol, wat die naweek begin wys. Dit was juis betaaldag, so waarom bederf jy jouself nie met ’n goeie fliek nie?
Hier’s die flieks wat nou draai en wat ons graag wil sien.
En nou elders …
Charlie Sheen is die jongste celeb met sy eie emoji’s. En wat is ’n beter naam daarvoor as “Sheenoji’s”? Charlie het sowat 100 Sheenoji’s bekend gestel.
Charlie volg op Kim Kardashian, wat haar eie Kimoji’s bekend gestel het, en ook haar man, Kanye West, met sy Yemoji’s. Die rapper Amber Rose het weer haar eie Muvamoji’s (wat haar glo $4 miljoen, sowat R62 miljoen) in die sak gebring het, berig Daily Mail.

Só lyk Kimojis
Dit gaan voor die wind op Mars! Die Curiosity Rover het ons laat weet dat daar geen aardskuddende nuus is nie. Als is kalm op Mars.
.@Lin_Manuel I can report no Earth-shattering kabooms. All quiet on Mars. pic.twitter.com/tldJMzHDkX
— Curiosity Rover (@MarsCuriosity) May 27, 2016
So daar het jy dit, lekker naweek hou!
The post Mooiweer vir Suid-Afrika appeared first on SARIE.