’n Trompet vir Thomas, ’n pragtige prenteboek deur Milan Murray, Charmaine Nolte en Marisa du Toit, leer vir jong kinders die ware feite oor asma en wys dat ’n asmalyer ’n normale lewe kan lei. Ons gesels met die skrywers oor hierdie waardevolle Cipla-inisiatief.
![]()
Charmaine Nolte (links) en Milan Murray, die skrywers.
Ons ken Milan as aktrise – op die verhoog, in flieks en op TV – maar sy is ook ’n talentvolle skrywer, onder meer van kinderboeke. Sy en Charmaine besit saam die uitgewery Murray & Me. Die twee is vriendinne, vennote en ma’s wat ’n liefde vir lees deel. Hul kinderboeke bring fantasie en opvoeding op ’n kreatiewe manier bymekaar. Kinders kan met die boeke identifiseer, want dit gee nie ’n preek nie, maar eerder ’n avontuur.
’n Trompet vir Thomas is presies só ’n boek. Dit lê wolhaarstories oor asma bloot en wys dat asmalyers ’n normale en opwindende lewe kan lei. Maar buiten die waardevolle boodskap is dit ’n verhaal met intrige en kleur. Marisa se pragtige illustrasies gee lewe aan die karakters en op elke bladsy wag ’n kunswerk.
![]()
‘n Trompet vir Thomas
Milan en Charmaine het met SARIE.com oor die prenteboek gesels:
Waarom skryf julle juis kinderboeke?
Ons het albei ’n groot liefde vir lees en probeer dieselfde liefde by ons kinders kweek. Twee jaar gelede, toe ons Murray & Me begin het, was ons al twee in die stadium waar ons elke aand ons kinders in die bed gesit het met ’n storie. Ons eie koppe was vol stories. Milan het ’n aanleg vir skryf en Charmaine jare se ondervinding in produkontwikkeling en verkope aanlyn – so prenteboeke was ’n natuurlike uitvloeisel!
Waaroor gaan die verhaal?
Thomas het ’n droom om sy oupa se trompet te leer speel, maar wanneer hy met asma gediagnoseer word, dink hy sy musiekdrome is daarmee heen. Hoe sal sy longe dit hou? Hy vind egter uit die skool se sokkerheld het ook asma en besef hy kan ’n normale lewe lei ondanks sy asma.
![]()
Die skool se sokkerheld Brad vertel vir Thomas dat hy ook asma het. Illustrasie: Marisa du Toit
Waarom ’n kinderboek oor asma?
Wanneer prenteboeke ’n les of ’n waarheid kommunikeer, is dit gewoonlik moreel van aard. Ons voel stories kan ook gebruik word om na mites rondom diagnoses te kyk en opvoedkundig te wees. Baie kinders het asma, maar verstaan nie wat dit behels nie. Hierdie boek dien as ’n prettige hulpmiddel vir die dokter of ouers om dit aan die kind oor te dra. So is daar baie diagnoses wat kinders raak wat ons graag met die hulp van kundiges in prenteboeke wil takel, soos diabetes en ADHD (aandagafleibaarheid).
Hoekom het julle besluit om Ryk Neethling in die boek te meld?
Elke kind het ’n held. En dit help as ons weet ons helde het ook hulle uitdagings. Daarom het ons gedink om nie net vir ons hoofkarakter, Thomas, ’n held te gee nie, maar sy held het ook ’n held – Ryk Neethling! Omdat Ryk so openlik praat oor sy asma, was dit ’n maklike besluit om hom te nader.
![]()
Wêreld-asmadag. Klokgewys van voor: Ryk Neethling, Charmaine Nolte, Lisl de Villiers en Milan Murray
Die boek is in dokters se spreekkamers beskikbaar, maar gaan ons dit binnekort ook op winkelrakke sien?
Cipla het die inisiatief as hulpmiddel vir dokters bedoel. Tog is die projek so goed in spreekkamers ontvang dat ons dit binnekort ook aan die publiek gaan verskaf. Hou gerus ons webtuiste, www.murrayandme.co.za, dop vir bestellings aanlyn, ons gaan 10% van alle verkope aan Cipla skenk.
In vandag se tyd met sosiale media en die kuberruim, hoekom is storieboeke steeds belangrik?
Die debat oor regte boeke teenoor e-boeke duur voort! Ons sal seker altyd baklei om die ritueel van boeklees te assosieer met die reuk van tasbare blaaie en die gewig van die storie in jou hande. Dis seker maar die verskil tussen springmielies in die mikrogolf maak of in ’n pot op die stoof. Al twee se eindresultaat is springmielies, maar by die een proses was jy meer betrokke. Stories is van onskatbare waarde, maak nie saak hoe jy dit inkry nie!
![]()
Marisa du Toit (links), die illustreerder, by Charmaine en Milan.
Het julle ’n gunstelingboek uit jul eie kinderdae, iets wat ’n blywende indruk op julle gemaak het?
Milan: Ek was op laerskool deel van die Daan Retief Boekklub. Ek kan onthou dat ek angstig by die posbus gewag het vir elke maand se aflewering. Dit was soos ’n lucky packet, net beter! Daar was baie gunstelinge, maar Dr. Seuss se Die kat kom kuier was bo-aan die lys.
Charmaine: Nes Milan het ek ook elke maand ’n Daan Retief Boekklub-pakkie ontvang. Ek kan letterlik die reuk onthou van die boksie waarin dit gekom het. Ek raak sommer nostalgies as ek net daaraan dink. My kinderdae was gevul met wonderlike storieboeke en elke keer as iemand vra wat my gunsteling is, antwoord ek anders. Vandag is my antwoord Kalie Emmer en die groot glashyser deur Roald Dahl.
Besoek Cipla se webtuiste hier
The post Aktrise se boek help jong asmalyers appeared first on SARIE.