Ons deelnemers skitter in klank en kleur spog in SARIE Voorbladgesig op kykNET uitgesaai word. Met in die regie-stoel ’n mooi blondine wat self voor die kameras sou kon wees.
Berdene Burger van Pretoria dra met gemak verskeie hoede in die filmbedryf: vervaardiger, produksie-ontwerper, skrywer en selfs aktrise. Maar regie doen sy nou die eerste keer. Gewoonlik is dit die domein van haar man, Janhendrik.
“Dis ’n uitdaging, want hy is altyd die een wat ek vra as dit by tegniese goed kom. Maar dis goed vir ons verhouding dat ek sy wêreld beter leer ken en verstaan.”
Die twee het ontmoet op die stel van die fliek Koringberg, waarvan hy regisseur en sy mede-regisseur was. Projekte vir hul produksiemaatskappy, Meerfout Films, pak hulle deesdae saam aan: hy as regisseur en kinematograaf, sy as vervaardiger en produksie-ontwerper.
In 2014 het hul kortfliek Almon, Henry ’n benoeming by die Silwerskermfees gekry. Die draaiboek is deur Nataniël geskryf. Sedertdien behartig hulle die vervaardiging van sy leefstylprogram Edik van Nantes, en was vroeër vanjaar juis weer saam met die res van die klein span in Frankryk vir die skiet van die derde reeks, wat vanaf 4 Oktober uitgesaai word.
“Nataniël is die mees inspirerende mens wat ek ken. Hy is onbeskaamd en met oorgawe homself, al daai kostuums en juwele! Hy het dit boonop reggekry om dit in ’n sakeonderneming te omskep.”
Vervaardiging behels baie administratiewe werk en daarom moet sy haar vlerke met meer kreatiewe dinge wind gee. Sy was onder meer medeskrywer van die fliek Jou Romeo, saam met Tina Kruger en Danie Bester.
Vir SARIE se voorbladvroue sien sy kans, maar ’n kat voor die kamera, néé. “Daar was ’n regte kat op stel tydens die vervaardiging van die kortfilm Die lang kat [’n verwerking van die Chris Barnard-kortverhaal vir die Silwerskermfees in 2013]. Van klokkies tot catnip moes ingespan word om hom net sover te kry om van ’n kas af te spring!”
The post Voorbladgesig: Berdene Burger die storieverteller appeared first on SARIE.