Reine Swart is een van die sterre van Die Pro, Suid-Afrika se eerste surf-fliek. Met haar lang blonde hare, ysblou oë en slanke lyf lyk sy soos die perfekte surfer-girl, hoewel sy dié vaardigheid eers moes aanleer.
Die 26-jarige gesels met SARIE.com oor Die Pro, rondreis agter rolle aan en die getroude lewe.
![Die-Pro-Poster-HR]()
Een van die manne
“Dit was ongelooflik baie pret om Die Pro te skiet,” sê Reine. Sy is die enigste vrou wat saam met akteurs Edwin van der Walt, Viljé Maritz, Bennie Fourie en Arno Greef in Jeffreysbaai ’n huis gedeel het. Die meeste van hulle moes vir die eerste keer in hul lewe leer branderplank ry …
“Ek het soos ’n regte tomboy gevoel om heeltyd saam met die ouens te wees en te sien hoe hulle in sekere situasies optree. Hulle is almal baie ordentlik en ons het baie goeie vriende geraak, hulle is nou soos nefies vir my. Viljé is die lawwe een, Bennie is die snaakse een, Arno is baie musikaal en speel baie kitaar en Edwin is ernstig en gefokus,” vertel Reine.
Ná skool het Reine ’n werksessie by die Los Angeles-tak van die New York Film Academy bygewoon. Afrikaanse kykers het met haar kennis gemaak as die dwelmverslaafde Nadine in Villa Rosa. Daarna het sy ook in Geraamtes in die kas teenoor Anel Alexander gespeel. In dié rol was sy ’n patologiese leuenaar. “Ek het al donker rolle gespeel, maar ek geniet dit,” vertel Reine. “Dit was ongelooflik om teenoor Anel te speel, sy is een van my rolmodelle en ek het baie by haar geleer.”
Leer om te surf
Die rol in Die Pro nie net in haar skoot geval nie. “Ek moes vir 4 oudisies gaan voordat ek finaal gehoor het ek het dit [die rol] gekry. Die rol het my aangetrek omdat Evette só ’n sterk karakter is. Haar broer sterf en sy besluit om nie net op ’n hopie te sit nie, maar iets te doen en aan te gaan met die lewe. Ek het baie by haar geleer en kyk op ’n manier op na haar.”
Om te leer branderplank ry was vir Reine baie opwindend. “Ons het eers op ’n longboard geleer, wat bietjie makliker is, en later die korter planke begin gebruik. Dit is ’n ander tipe oefening en ek was nie daaraan gewoond nie. Naderhand is jy stokflou, maar elke keer ná jy uitgery het, moet jy weer in-paddle en van voor af begin.”
Vir die meer gevorderde branderplanktegniek in die filmskote het hulle vir Crystal Hulett, een van SA se jong talentvolle branderplankryers, gebruik. “Sy is ongelooflik goed en haar hare is presies so lank soos myne, dit het perfek gewerk.”
Oor die première vanaand (Donderdag, 3 September) in Johannesburg is Reine baie opgewonde. “Ek was nogal gespanne voordat Die Pro verlede week by die kykNET Silwerskermfees gewys het, omdat dit die eerste keer was dat ek die volledige film self ook gesien het, maar vanaand gaan ek dit net geniet. Ek is ongelooflik trots!”
Rondreis en die getroude lewe
![Reine en haar man, Xander]()
Reine en haar man, Xander, by die kykNET Silwerskermfees 2015
Reine is twee jaar gelede met haar bedryfsingenieur-man, Xander Swart, getroud. Hulle albei reis baie vir hul werk, soveel so dat sy nie eens regtig weet waar hulle woon nie. “As ons in die Kaap is, woon ons in Durbanville en as ons in Gauteng is, woon ons in Centurion,” lag sy.
Kyk hier die lokprent van Die Pro:
Lees ook
_________
Dis ons aand van die jaar met glans, bekendes en ons Voorbladfinaliste. Wees op 6 September deel van die rooitapyt-geleentheid wanneer die twee kategoriewenners uit die 10 finaliste aangewys word, en één dan wegstap as SARIE Voorbladgesig 2015. Dis haar gesig wat op die Oktober-uitgawe van SARIE sal pronk, en jy sal eksklusief ’n eerste kopie van die tydskrif in jou hande kan hê. Moenie die opwinding misloop nie!
Optredes deur die sangers Joseph Clark, Corlea Botha en Joshua na die Reën, met Nadia Beukes as gasvrou, sal die aand selfs meer spesiaal maak. Maak seker jy kry plek – koop jou kaartjie nou!
![VBGfader 1 voorbladgesig event]()
Lees meer HIER
Kry jou kaartjie HIER
The post Die Pro se Reine Swart gesels oor surf en toneelspeel appeared first on SARIE.