Ná byna 10 jaar saam in die kollig het die sangeres Sorina Erasmus, ook bekend as die Flooze van Witbank, besluit om dié twee rolle in haar lewe van mekaar te skei. Die kommin losloper Flooze wat nog wil party, en die doodgewone girl next door wat ’n ma wil wees vir haar seuntjie, Braam, en doodgelukkig is by die huis.
Sorina het met SARIE.com gesels oor dié besluit:
“Ek en die Flooze verskil deesdae net te veel. Sy wil nog uitgaan en aan ouens se kuite vat, en ek is baie rustiger vandat ek ’n ma is,” kom die rede vir haar besluit. “Maar dit beteken glad nie dat sy nie steeds haarself sal inwurm op al wat ’n plek is nie. Sy sal steeds by al my vertonings wees, ons gaan net nie meer saam CD’s maak nie.”
Hoe het sy die Flooze gevind?
Sorina onthou hoe moeilik dit aanvanklik vir haar was om die rol as die Flooze in 7de Laan te aanvaar. “Dit was ’n piepklein rolletjie. Ek het twee sinnetjies gehad om te sê en ek moes vir Paula (Diaan Lawrenson) ’n vuishou gee. In daardie stadium het ek drie jaar laas gewerk, ek het my beroep as regsgeleerde laat vaar om toneel te speel en die werk het nie ingekom nie. Boonop was dit my oorlede ouma Sofia se wens dat ek in 7de Laan moes speel, toe aanvaar ek die rol,” onthou Sorina. “Hulle het gesê ek moet kommin wees, toe word ek die komminste meisie in Suid-Afrika. Ek het self nie geweet daardie kommin bestaan binne my nie!” Sy lag wanneer sy onthou dat een van die regisseurs by 7de Laan vir haar gesê het: “Elke dorp het sy swane en sy likkewane, die Flooze is een van Witbank se likkewane.”
Sy het nie in haar wildste drome die karakter wat nie eens ’n regte naam in die draaiboek gehad het nie – vandaar die Flooze, want dis wat daarop gestaan het – haar loopbaan sou lanseer nie. “Daardie einste rooi leerbaadjie moes ek self saamvat die dag, want die rol was te klein dat hulle vir haar klere aangeskaf het,” lag sy.
![FOTO: Willem Botha Stilering: Fanie Cronjé]()
FOTO: Willem Botha
Stilering: Fanie Cronjé
Twee nuwe albums op pad
Nou is Sorina egter op ’n ander plek in haar lewe. Haar nuwe album verskyn eersdaags en die musiek daarop is besadig, kommersieel en radio-vriendelik. “Ek en my man, Braam, wat ook my bestuurder en agent is, werk al drie jaar aan dié album. Ons doen alles saam, ons is soos ’n koeksister.” Die liedjie wat sy vir Braambossie, soos hul 1-jarige seuntjie bekend staan, geskryf het, “Welkom in ons wêreld”, sal op die album wees, asook “Hartland” wat mense motiveer om die mooi in Suid-Afrika raak te sien selfs al lyk alles nie altyd rooskleurig nie. “Baie van die liedjies is inspirerend; dis ’n mengelmoes van mooi liedjies wat oor die drie jaar soos goeie rooiwyn mooi bymekaar gekom het.”
Die Tjommas onder ons hoef egter nie te bekommerd te wees nie, want die Flooze word volgende jaar losgelaat in die ateljee. “Ek gaan haar vrye teuels gee om die tannies se oë te laat rek,” vertel Sorina. Dit is in 2016 presies 10 jaar sedert die Flooze gehore die eerste keer begin vermaak het en dit sal gevier word met treffers soos “Hotter as botter” en die “Bling-masjien”.
![FOTO: Willem Botha STILERING: Fanie Cronjé]()
FOTO: Willem Botha
STILERING: Fanie Cronjé
Balans is belangrik
Die sleutel tot alles in die lewe vir Sorina is balans. “Die verhouding tussen Sorina en die Flooze, en die hoeveelheid persoonlike inligting wat ek met my gehore deel, kom alles neer op balans. Alles in die lewe is ’n keuse, ons kies om privaat te wees en om Braambossie hoofsaaklik vir onsself te hou.”
Sorina is duidelik versot op klein Braambossie. “Ek en Braam eet, slaap en werk vir daardie seuntjie. Selfs as hy huil, is hy vir ons oulik,” sê sy. “Voor ons hom gehad het, het ons geweet wat liefde is, maar dit was net ’n druppel in die emmer oor hoe ons oor Braampie voel.”
Hulle wil beslis nog kinders hê en glo alles gebeur op die regte tyd: “Dit gebeur dalk vinniger as wat ons dink en die keer is dit dalk ’n klein Braambessie,” spot sy.
Lees ook
The post Sorina ‘die Flooze’ Erasmus: ‘Balans is die sleutel tot die lewe’ appeared first on SARIE.