Abseil, rotsklim, rekspring, valskermspring, branderplankry, kuier by leeus – noem dit op, hulle doen dit.
Portia Moemedi, verlede jaar een van SARIE se Voorbladgesig-finaliste, en die sanger Mathys Roets is vanaand te sien in die première van die avontuurprogram Authentiek op SABC2 (20:30).
“Ek is opgewonde, maar ook bietjie bang. Tog ek het almal wat ek ken, gebel om te kyk,” sê Portia.
Portia was voorheen ’n deeltydse model en het ook interne bemarking vir ’n Kaapse maatskappy gedoen. Sy het ’n graad in sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.
Dit is haar eerste TV-show. “Maar sy is so natuurlik en sê vir niks nee nie. Dit is maklik om saam met haar te werk,’’ vertel Mathys.
“En hy is so ’n grapjas en laat mens gemaklik voel, veral as jy bang is,’’ sê Portia.
Toe hulle ’n rotsklim-episode by Waterval-Boven opgeneem het, wou Portia huil. “Veral toe ek sowat 60 meter na benede moes abseil. Hy het dit so maklik gedoen …”
Mathys was mal oor die branderplankry-ervaring naby Victoriabaai in die George-omgewing.
“Dit was die eerste keer sedert my ongeluk dat ek weer in die see was. Ek het nie gedink ek sou dit regkry nie.’’
Hulle het reeds ses episodes verfilm en moet nog twintig doen. “Dit is uitdagend om 26 interessante avonture uit te dink. Maar ons het allerlei nuwe vaardighede – soos duik – aangeleer. Ons hoop om dit in die vervolg by eksotiese bestemmings te kan aanwend. En ek skimp al klaar vir ’n ski-vakansie in Kanada,’’ lag Mathys, die grapkas.
Portia sê sy is so dankbaar vir mense wat in haar glo en haar die geleentheid gegee het om dié program te maak – haar ma, Virginia, ’n huishulp in Jeffreysbaai en een van haar grootste rolmodelle, haar kêrel, na wie sy as Liefie verwys, haar tannie Setshego … “Ag, daar is só baie …’’
Sy gaan vanaand met ’n lekker glas wyn voor die TV saam met haar Liefie na die eerste program kyk.
“Ek hoop nie die mense kritiseer die program – my gebrek aan grimering of aanbiedingsvaardighede – nie. Ek is bietjie senuweeagtig daaroor. Maar ek sal dit hanteer soos ’n ware vrou,’’ lag sy.
Lees nou
Nataniël maak konsert vir goeie doel
Is sy SA se grootste sepiefeeks nóg?
The post Mathys en SARIE-voorbladfinalis vanaand eerste keer saam op TV appeared first on SARIE.