Gisteraand tydens ’n glansgeleentheid is Carlize Earle (30) van George aangewys as die algehele wenner van SARIE Voorbladgesig van die Jaar 2015! Ons wenner in die tweede kategorie (31+) is Chandré Janse van Rensburg (34).
Vir SARIE se redakteur, Michélle van Breda, was dit “soos ’n stuk van ’n SARIE-legkaart wat net gepas het – the perfect fit” toe kunsdirekteur Hanri Gerischer die eerste keer Carlize se foto op die tydskrif se voorblad geplaas het. “Dit bly die eenvoudige toets: werk daardie gesig op die voorblad? Is daar sprankel, is daar ’n konneksie? Met Carlize was dit onmiddellik ’n oorweldigende ja, ja, ja! Hoe ongelooflik mooi is haar voorblad nie. Treffend, maar ook so anders as elk van die vorige vier wenners – presies wat ons wou gehad het.”
Oor die tweede wenner, Chandré, is Michélle ewe verstom. “Sy staan sogggens kwart oor drie op, doen Bybelstudie saam met haar man en vieruur ry hulle met hul fietse 5 km gimnasium toe, oefen 45 minute en ry terug . . . betyds om die kinders reg te kry vir hul dag. Jy kan nie dink sy’s ’n ma van drie wat nog haar plek as geoktrooieerde rekenmeester by die werk volstaan nie. Chandré is ’n heerlike kombinasie van vroulikheid en gedrewenheid.”

FOTO: Leana Clunies-Ross
Lees meer oor ons twee wenners in die Oktober-uitgawe van SARIE – digitaal beskikbaar vanaf 9 September, op die rak vanaf 14 September.
The post En ons Voorbladgesig van die Jaar 2015 is Carlize Earle! appeared first on SARIE.