Daar gaan skaars ’n dag verby dat ’n lid van die magtige Kardashian/Jenner-gesin nie die nuus haal nie. Hul elke beweging word gevolg en gefotografeer. Nou kry die jongste suster van die gesin, Kylie Jenner, haar eie werklikheidsreeks, Life of Kylie, volgens The Hollywood Reporter. Dié reeks van agt episodes wat op die TV-kanaal E! uitgesaai gaan word, sal veral fokus op Kylie se vriendskapsverhoudings en sakebedrywighede.
Dis moeilik om te glo dat daar ’n tyd was toe mense nie veel van Kim en Kie. geweet het nie. Dié gesin het die wêreld presies tien jaar terug op sy kop kom draai toe die eerste episode van hul werklikheidsreeks Keeping up with the Kardashians in 2007 uitgesaai is.
Hier is nog ’n paar interessante dinge wat tien jaar terug gebeur het:
1. Die eerste iPhone word bekend gestel en die internasionale nuustydskrif TIME kies dié slimfoon as hul ‘Best Invention of the Year’.
2. Die Springbokke wen hul tweede Wêreldbeker-rugbytoernooi. Tydens die eindronde in Frankryk het hulle Engeland met 15 – 6 geklop.
3. Swemmer Ryk Neethling verskyn op SARIE se voorblad. Hy is maar een van ’n handjievol mans wat al in SARIE se 67-jarige geskiedenis op hul eie op SARIE se voorblad gepryk het. Die ander sluit in Nataniël, Steve Hofmeyr en Bobby van Jaarsveld.
4. Popster Britney Spears skeer al haar hare af ná ’n emosionele ineenstorting. Dieselfde jaar kondig Britney se 16-jarige suster, Jamie-Lynn, aan sy is swanger.
5. Die sewende en laaste Harry Potter-boek, Harry Potter and the Deathly Hallows, verskyn en sowat 15 miljoen kopieë word binne die eerste 24 uur verkoop.
6. ’n Ma neem ’n video van haar 12-jarige seun se optrede by ’n plaaslike sankompetisie en laai dit op YouTube, een van ’n paar videos wat sy dieselfde jaar van haar seun se sangtalent deel. Vandag is Justin Bieber een van die wêreld se grootste popsterre – alles te danke aan ’n talentbestuurder wat op dié internetvideo’s afgekom het.
Bykomende bron: TIME
The post 10 goed wat 10 word die jaar appeared first on SARIE.