Wat is ’n high tea nou eintlik? En hoe verskil dit van ’n middagtee by Ouma se huis? Die kosskrywer en -stilis en aanbieder van kykNET se Kokkedoortjie Mari-Louis Guy verduidelik:
Binne ’n Suid-Afrikaanse konteks beskou ek middagtee (afternoon tea) as ’n geleentheid waar jy gaste laatmiddag ontvang en vir hulle ’n bordjie soet eetgoed saam met die tee aanbied.
My ouma-hulle het amper elke dag mense so ontvang of vriende en bure gaan besoek vir dieselfde. Die soet in hierdie geval is gewoonlik ’n stukkie koek of ’n bordjie met verskillende soetkoekies.
’n High tea, daarenteen, is ’n meer formele affêre, ’n groot tafel gelaai met ’n goeie keuse van klein happies, soet en sout.
As ons egter terugloer na die Britse oorsprong van hierdie tradisies, dan sien ons die middagtee se ontstaan in die middel van die 19de eeu. Die idee was ’n tussenin-ete so teen vieruur die middag (aandete was eers agtuur). ’n Afternoon tea het bestaan uit drie gange: eers southappies en vingertoebroodjies, dan botterbroodjies of skons met room en dan soetgoed as die derde en laaste gang.
’n High tea was meer iets vir die laer klasse en is so genoem omdat dit by ’n tafel geneem is, terwyl die rykes hul middagtee in lae, gemaklike stoele en op sofas geneem het.
Bloot vir interessantheid: By ’n koninklike tee (royal tea) word altyd sjampanje bedien.
Lees ook:
Mari-Louis Guy se skons

FOTO Mari-Louis Guy
Bron: Mari-Louis Guy en Callie Maritz
Besoek hulle webtuiste, Facebook-, Twitter– of Pinterest-blad.
The post Mari-Louis Guy: Só hou jy ’n high tea appeared first on SARIE.