Prins Harry verdien net soveel geluk soos sy ouboet, prins William. En die goeie nuus is dat dit lyk of die rooikopprins en Amerikaanse TV-aktrise Meghan Markle binnekort verloof gaan raak. Hy het glo sy ouma, koningin Elizabeth II, se toestemming gevra om met die Suits-ster te trou en sy het dit reeds gegee, berig The Mirror en Elle UK. Dis goeie nuus!
Ja, die koningin moet eers toestemming gee voordat aanspraakmakers op die Britse troon mag trou. Hoewel prins Harry slegs vyfde in die ry is, geld dit ook vir hom ingevolge die Royal Marriages Act 1772.
Selfs prins William moes destyds vir sy ouma vra of hy met sy geliefde Kate Middleton mag trou.
In die 18de eeu het koning George III ’n wet uitgevaardig dat die monarg voorgenome huwelike van lede van die Britse koninklike familie eers moet goedkeur voordat dit mag plaasvind.
Hierdie einste wet het verhoed dat koningin Elizabeth se ontslape suster, prinses Margaret, destyds met haar kapt. Peter Townsend kon trou. Townsend was geskei, iets waarop die koningshuis en kerk neergesien het. Koningin Elizabeth het ná wat met prinses Margaret gebeur het, nooit nee gesê nie.
Meghan reeds in Londen
Volgens E! News het Meghan reeds Dinsdag in Londen aangekom vir Kate se suster, Pippa Middleton, se troue. Sy is glo dadelik Kensington-paleis toe geneem.
Pippa trou Saterdag met haar verloofde, James Matthews, in die St. Markus-kerk in Englefield, Berkshire.
Klein prinses Charlotte gaan ’n strooimeisie wees. Dis reg, nié ’n blommemeisie nie, maar ’n bruidsmeisie. En prins George gaan ’n hofknapie wees.
Pippa se deftige troue gaan £250 000 (sowat R4 miljoen) kos, berig The Telegraph.
Bronne: E! News, Elle UK, The Mirror
The post Prins Harry gaan glo die groot vraag vra! appeared first on SARIE.